Hoor die getjirr-tjirrr van die vink
wat besig is om die boom te vermink
in sy vlytige werk aan ʼn doelgerigte taak:
ʼn Weeftuiste vir sy aanstaande bruid te maak.
Die melodie van die mossies kom dan daarby
waar hul al tjiep-tjiepend in ʼn trop wei.
Opruiend gesels hul oor alles en nog wat,
eerdat hulle vir eers uitmekaar spat.
ʼn Variant van die wysie neem die skuimogies op;
hulle getiep-tiep-tjieee getuig van lewensgenot.
Hul wysig die wysie van boom tot boom
met ʼn uitbundigheid sonder toom.
Hoor daarmee tesame die vreedsame ondertoon:
Die gekoer van die duiwe so rustig en skoon.
ʼnTevredenheid met die lewe skemer deur
soos hul die dag beskou in rosekleur.
Met tussenposes op die meesleurende maat
maak die kwikstertjie sy bydrae ewe kordaat.
Met ʼn hoë Piep laat hy almal weet:
Daar is sekeres wat jy tog nooit moet vergeet.
En dan breek die asemrowende crescendo aan
met die toetrede van die Kaapse kanarie-sopraan.
In die nadraai van elke suiwer, vloeiende, liriese frase
is die tuin effe stil asof in bewonderende ekstase.
So dra die geveerdes elk tot die tuinsimfonie by.
Wie en waar die dirigent wat dit alles lei?
- Kennard Kotze -
Create a free website - More here